jaloersreën s.nw. (streektaal) Reën wat nie eweredig val nie, maar in strepe trek of in los buitjies uitsak sodat die een boer wat niks gekry het nie, dikw. jaloers word op sy buurman by wie heelwat reën geval het; teenoor landsreën. (In Boesmanland en Kakamas opgeteken).
'Woord van die week uit die WAT'
reet s.nw., rete; reetjie. (minder gebruiklik) Kleinerige bars, skeur of opening wat i.d. lengte ‘n aansienlik groter afmeting het as i.d. breedte: Hy kan … deur die reet … alles sien wat in die ander vertrek aangaan (G. Lampen: Waar die Skaduwees Dans …, 1942, 99).
refter s.nw., refters. KLOOSTEREETSAAL: Toe word suster Beatrix … terminaal siek. Moeder-owerste kondig dit die aand in die refter aan (A.M. Louw: Die Loop van die Rivier, 1986, 87).
repeteer ww.
1 Herhaal.
2 ‘n Toneel- of musiekstuk instudeer.
Uit Nederlands repeteren, uit Frans répéter "herhaal", uit Latyn repetere, met laasgenoemde van re- "weer" en petere "probeer verkry, benader".
Duits repetieren, Engels repeat.
moker s.nw., mokers.
1 Swaar langsteelhamer wat veral gebruik word om pale, penne of wîe in te slaan; sin. mokerhamer (minder gebruiklik): Bring die moker sodat ek die tentpen dieper kan inslaan.
2 Iemand wat baie groot en sterk is: ‘n Fris moker. As jy vandag vir Niklaas sien, moker van ‘n man, sal jy nie sê hy was eenmaal op die randjie van die dood nie (Huisgenoot, 28 Mei 1976, 20).
regsê ww., het reggesê.
1 (geselstaal) TEREGWYS: Almal ken een of meer ou tannies wat net kla, spog, afkraak, regsê en slegsê. Hy is die enigste mens wat die politikus kon regsê sonder om as kolonialis uitgekryt te word (Rapport, 28 Mei 2006, 16).
2 (streektaal) In ‘n werkende toestand bring: Hy moes eers sy skedonk regsê voordat hulle die lang pad kon aanpak (veral opgeteken in die Boland).
raket s.nw., rakette.
Slaanding by sekere balspele soos tennis en pluimbal.
Raket gaan via Latyn terug op Arabies rahat "handpalm", omdat oorspronklik met die plat hand geslaan is.
vlermuis s.nw.
Klein, behaarde soogdiertjie waarvan die voorpote tot vliesagtige vlerke ontwikkel het waarmee hy snags rondvlieg om insekte en vrugte te vreet.
Uit Nederlands vledderen "fladder" en muis "muis", omdat die diertjie soos ‘n muis lyk wat vlerke het om te fladder. Duits Fledermaus, Engels flittermouse (verouderd)
kywie hou (uit Latyn cave, "pas op, wees versigtig") (geselstaal, skooltaal)
Wag hou, op die uitkyk wees sodat jy of jy en jou makkers nie betrap word nie: Ons het kleintyd skelm gerook by die skoolkoshuis, met ‘n man wat by die hoek moes kywie hou (D. Kamfer: Die Elfde Uur, 1962, 40).
rubbertjek s.nw., rubbertjeks. (geselstaal) Ongeldige of vervalste tjek: ‘n Libanese hoë wat met ‘n rubbertjek vir R45 000 vir sekere gunsies betaal het, is in die tronk gestop (Die Burger, 4 Jun. 1997, 3).
