'Woord van die week uit die WAT'

Woord van die Week uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

jaloersreën s.nw. (streektaal) Reën wat nie eweredig val nie, maar in strepe trek of in los buitjies uitsak sodat die een boer wat niks gekry het nie, dikw. jaloers word op sy buurman by wie heelwat reën geval het; teenoor landsreën. (In Boesmanland en Kakamas opgeteken).

Woord van die Week uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

reet s.nw., rete; reetjie. (minder gebruiklik) Kleinerige bars, skeur of opening wat i.d. lengte ‘n aansienlik groter afmeting het as i.d. breedte: Hy kan … deur die reet … alles sien wat in die ander vertrek aangaan (G. Lampen: Waar die Skaduwees Dans …, 1942, 99).

refter s.nw., refters. KLOOSTEREETSAAL: Toe word suster Beatrix … terminaal siek. Moeder-owerste kondig dit die aand in die refter aan (A.M. Louw: Die Loop van die Rivier, 1986, 87).

Woord van die weekuit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

repeteer ww.

1 Herhaal.

2 ‘n Toneel- of musiekstuk instudeer.

Uit Nederlands repeteren, uit Frans répéter "herhaal", uit Latyn repetere, met laasgenoemde van re- "weer" en petere "probeer verkry, benader".

Duits repetieren, Engels repeat.

Woord van die Week uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

moker s.nw., mokers.

1 Swaar langsteelhamer wat veral gebruik word om pale, penne of wîe in te slaan; sin. mokerhamer (minder gebruiklik): Bring die moker sodat ek die tentpen dieper kan inslaan.

2 Iemand wat baie groot en sterk is: ‘n Fris moker. As jy vandag vir Niklaas sien, moker van ‘n man, sal jy nie sê hy was eenmaal op die randjie van die dood nie (Huisgenoot, 28 Mei 1976, 20).

Woord van die week uit die Etimologiewoordeboek van Afrikaans, ’n produk van die WAT

image

siebie

I           ww., het gesiebie.  Motreën: Dit het die hele dag gesiebie.

II          s.nw., siebies.  Hondjie.

Moontlik Ndl. streektaal uit Groningen in die vorm siep, “herdershond”.

III         tussenwerpsel.  Uitroep waarmee ’n hondjie of katjie geroep word.

Woord van die week uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

regsê ww., het reggesê.

1 (geselstaal) TEREGWYS: Almal ken een of meer ou tannies wat net kla, spog, afkraak, regsê en slegsê.  Hy is die enigste mens wat die politikus kon regsê sonder om as kolonialis uitgekryt te word (Rapport, 28 Mei 2006, 16).

2 (streektaal) In ‘n werkende toestand bring: Hy moes eers sy skedonk regsê voordat hulle die lang pad kon aanpak (veral opgeteken in die Boland).

Woord van die Week uit die Etimologiewoordeboek van Afrikaans, ‘n produk van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

raket  s.nw., rakette.

Slaanding by sekere balspele soos tennis en pluimbal.

Raket gaan via Latyn terug op Arabies rahat "handpalm", omdat oorspronklik met die plat hand geslaan is.

Woord van die Week uit Etimologiewoordeboek van Afrikaans, ‘n produk van die WAT

vlermuis s.nw.

Klein, behaarde soogdiertjie waarvan die voorpote tot vliesagtige vlerke ontwikkel het waarmee hy snags rondvlieg om insekte en vrugte te vreet.

Uit Nederlands vledderen "fladder" en muis "muis", omdat die diertjie soos ‘n muis lyk wat vlerke het om te fladder. Duits Fledermaus, Engels flittermouse (verouderd)

Woord van die Week uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

kywie hou (uit Latyn cave, "pas op, wees versigtig") (geselstaal, skooltaal)

Wag hou, op die uitkyk wees sodat jy of jy en jou makkers nie betrap word nie: Ons het kleintyd skelm gerook by die skoolkoshuis, met ‘n man wat by die hoek moes kywie hou (D. Kamfer: Die Elfde Uur, 1962, 40).

Woord van die Week uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

rubbertjek s.nw., rubbertjeks. (geselstaal) Ongeldige of vervalste tjek: ‘n Libanese hoë wat met ‘n rubbertjek vir R45 000 vir sekere gunsies betaal het, is in die tronk gestop (Die Burger, 4 Jun. 1997, 3).