Inderdaad is “Afrikaans nog net by twee universiteite” (DB 16/8), naamlik US en NWU (Potchefstroom), as “primêre onderrigtaal.” En in prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad se woorde “’Mens kry soms die gevoel dat die taaldebat by plekke soos Stellenbosch teen Afrikaans gedraai het”.
Die taaldebat het al sedert 1994, onder aanvoering van die destydse getransformeerde SAUK, teen Afrikaans gedraai. Met die eerste ontmoeting wat Tabema destyds met die SAUK-TV gehad het, het ons ons vasgeloop teen die ideologie van transformasie en regstellende aksie. Toe was die SAUK aan die voorpunt om Afrikaans, die beweerde “wit” taal en die sondebok van apartheid, af te skaal en selfs uit te rangeer.
Dié nuwe ras-gebaseerde ideologie is sedert 1994 afgewentel na alle vlakke en instellings, tot by die histories-Afrikaansmedium universiteitsrade.
Die persepsie is geskep dat terwille van demokrasie en versoening, ons “meertalig” moes word. Prakties het dit neergekom op verengelsing, d.w.s. gróter ééntaligheid. Landswyd, ook op universiteitsvlak, kon of wou Afrikaanssprekendes dikwels a.g.v. skuldgevoelens oor die verlede, politieke korrektheid: en in ‘n gees van versoening, nie teen dié ras-gebaseerde transformasieproses hul stem laat hoor nie.
So lank as wat die US se taalbeleid en regstellende aksiebeleid rasgebaseerd is en Afrikaanssprekendes nie meer hul universiteitsopleiding en navorsing ten volle in Afrikaans kan ontvang en uitvoer nie, is die taal by US steeds in kettings, ten spyte van die rektor se aanspraak in sy artikel "Afrikaans uit sy kettings". (DB 18/8).
Ons wil ons hoop dat die Afrikaanse Taalraad met sy konferensie oor Afrikaans en die Onderwys (26-28 Augustus) ‘n besliste verskil sal maak. In dié sin dat dit prakties mag lei tot ‘n herbeplanning van Afrikaans se status en funksies as universiteitstaal. Boweal vir ‘n beleid waarvolgens Afrikaans as die primêre onderrigmedium, ook ruimte laat vir Engels, en nie andersom nie.
JB (Koos) du Toit
Stellenbosch