Berig – Rapport – 2010 01 31 – De Klerk geloof vir inisiatief oor taal

Marlene Malan

Afrikaanssprekendes – saam met die sprekers van al nege ander inheemse tale in Suid-Afrika – het die Grondwet in die hand en moet die regering regstreeks konfronteer oor sy minagting van dié tale.

As dié tien taalgroepe nie onmiddellik begin om op dié grondwetlike regte te staan nie, gaan Suid-Afrika onkeerbaar verval in verdere armoede en ongeletterdheid.

Dit was die boodskap Donderdag by die eerste taalberaad vir Afrikaans en ander inheemse tale wat die FW de Klerk-stigting gereël het om die status van veral Afrikaans op tersiêre en skoolvlak te ondersoek.

’n Verdere, soortgelyke beraad word vir later vanjaar beplan nadat 26 onafhanklike organisasies en vier universiteite die Afrikaanse Taalraad (ATR), in samewerking met die stigting, die mandaat hiervoor gegee het.

’n Mosie is aanvaar om ’n taakspan op die been te bring om met die regering te onderhandel oor die regte van moedertaalsprekers om in die taal van hul keuse onderrig te word.

Nadat De Klerk hom groot kritiek op die hals gehaal het toe hy aanvanklik geen universiteit genooi het om aan die beraad deel te neem nie, is hy Donderdag uit alle oorde vir sy inisiatief geloof.

Verteenwoordigers van vier universiteite – Maties, Tukkies, Noordwes en die Vrystaat – het die beraad bygewoon.

Die enigste rektor wat sélf sy opwagting gemaak het, is dr. Theuns Eloff van die Noordwes-Universiteit.

Eloff het hom sterk uitgespreek teen die regering se hantering van transformasie en minderheidstaalregte.

“Ons laat ons boelie deur ’n transformasie-ideologie wat nie in die Grondwet geskryf is nie. Daar is spanning tussen die Grondwet en transformasie. Dié wet gee genoeg ruimte vir taalregte, maar ons oefen dit nie uit nie.”

Eloff, wie se universiteit die enigste in Suid-Afrika is wat die gelyktydige tolk van lesings suksesvol toepas, het gesê Afrikaanses het net hulself te blameer vir die ontkenning van hul taal.

“Los jul kultuur van wag. Vat die bokkers hof toe,” het hy oor die regering se miskenning van bepaalde groepe se grondwetlike regte gesê.

Volgens Eloff is daar plek in Suid-Afrika vir vier kampusse met Afrikaans as primêre onderrigtaal.

“In dié land is Engels die grootste struikelblok tot sukses. Maar ons moet dit uitwys. Maar ons wil dit mos nie sê nie, uit vrees vir politieke inkorrektheid.

“Ek dien nie die regering se ideologie van transformasie nie – ek dien die land.”

De Klerk het gesê toe hy die Grondwet 16 jaar gelede beding het, “was ek tevrede. Nou is ek ontevrede. Dit gaan nie net oor Afrikaans nie – dit gaan oor méér as die toekoms van Afrikaans. As Afrikaans nie as institusionele universiteits­taal kan oorleef nie, wat is die kans dat ander inheemse tale oorleef?

“Dit gaan hier oor Suid-Afrika as multikulturele gemeenskap. Afrikaans blom op talle terreine, maar in die onderwyskonteks flikker die geel ligte.

“Enigeen wat wil voorgee die geveg om Afrikaans suggereer wit eksklusiwiteit, slaan die bal mis.”

Volgens mnr. Chris Klopper, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het dié beraad “te doen met die vraag of daar plek in Suid-Afrika is vir minderheidsgemeenskappe”.