Conrad Sidego
Redakteur Henry Jeffreys se rubriek oor die taaldebat (DB, 25.01) was in die kol. Dit was onder meer na aanleiding van kommentaar deur die Sunday Times se redakteur, wat gesê het die nuwe demokrasie het eintlik Afrikaans ’n tweede kans gegee. ’n Soort bevrydingsgeleentheid! Dit was ’n uitstekende samevatting van die debat, die dilemma en die uitdaging vir dié van ons wat Afrikaans ons bemoeienis maak.
As Afrikaanssprekende deel ek die diepste sentimente oor ons taal. Ek is al lank oortuig deur diegene wat weet moedertaalonderrig is die antwoord vir ons kinders. En ek wil graag sien dat daar billike ruimte vir al ons inheemse tale is – van die vroegste skooldag tot tersiêre vlak. ’n Afrikaanse universiteit elk in die Noorde en die Suide, as ’n voorbeeld, is min genoeg gevra. Dis immers in die gees van leef en laat leef, om nie eens die Grondwet te betrek nie!
Wat is my probleem? Twee sake: Die een is dat Afrikaanssprekendes lelik onklaar trap in ons huishouding. Onderling praat ons nog dikwels by mekaar verby – soos die onenigheid aan die vooraand van ’n beraad weer getoon het.
Wat ’n noodsaaklike en goed bedoelde gesprek tussen belanghebbers moes wees, het in ’n ruk-en-pluk-stryd tussen Afrikaanssprekendes ontaard. Daar is gekla oor misverstande, aanstote en uitsluitings. My tweede punt gaan juis oor uitsluitings. Op sy beste is ons landsburgers uiters sensitief vir tekens van uitsluiting, omdat die letsels van gister se skeidingspolitiek nog vlak in die gemoedere lê. Afrikaanse belangegroepe en die leierskorps moet dus lig loop vir dié strikke en vinnig uit foute leer.
Dit blyk ’n moeilike les te wees. So is ons nou weer uitgevang met die verteenwoordigers wat oor Afrikaans besin – volgens die media glo net drie uit die bruin gemeenskap op die beraad wat eerstehands bepaalde behoeftes en belewenisse kon stel.
Die kenners en gegriefdes verwys na en praat oor die mindergegoede en agtergeblewe sprekers van die taal wat ’n behoefte aan moedertaalonderrig het, maar die verteenwoordigers van diesulkes is nie in betekenisvolle getalle daar om hul saak te kom stel nie!
’n Mens kan verder gaan en ook verteenwoordigers van die ander inheemse tale nooi – omdat die “stryd” nie bloot om Afrikaans gaan nie, maar ook oor lewensruimte vir alle inheemse moedertaalsprekers en die impak op ons kinders se prestasievermoë.
Die agtergeblewenes is ook in die taalgesprek agtergelostes. Dít is op die beraad erken, en ons moet aanbeweeg. Die uitdaging is groot, en dáár moet ons energie bestee word.
Ewe energieverspillend is die naamgewery, wat ek ietwat onverkwiklik vind. Van die taalstryders heet nou onvleiend “taalbulle” en dra die beeld van ’n soort eksklusiewe wroegbende; Afrikaans-beswaardes wat voortdurend ongelukkig- heid oor ons taal het en oënskynlik nie op die hoogste vlak (waar dit saak maak) vorder nie. Ek glo dié “taalbulle” het ook net die beste bedoelinge vir Afrikaans. Ons het dalk nie altyd eensgesindheid oor strategie en aksies nie, maar ons wil uiteindelik dieselfde wenstreep oorsteek. Kom ons speel die bal, nie die man nie.
Laat ons as ’n uitgebreide Afrikaanse familie in die voorkamer bymekaarkom. Laat elkeen wat homself as ’n belanghebber beskou, self of deur sy instelling verteenwoordig word. Ook die minder gewildes in die familie. Aangetroud en stief! Laat ons behoeftes en begeertes duidelik en billik formuleer in die konteks van dit wat vir ons (en die ander inheemse tale) in die Grondwet vasgelê is.
Met dié wenslys moet ons leiers aan die regeringsdeur klop en ondubbelsinnige ondernemings kry. Ons is ’n komplekse samestelling van kulture, tale en ontwikkelingsbehoeftes. Oplossings sal nie eensklaps volg nie, maar laat ons die politieke wil ervaar om reg te laat geskied aan die dieper behoeftes van die reënboognasie.
Die vestiging van ’n volhoubare demokrasie en eerlike multikulturele strukture is veeleisend en duur, maar dis ons model vir Suid-Afrika. Glibberige, populêre praatjies en politieke korrektheid is nie goed genoeg nie.
Ek stem saam dat die nuwe politieke bedeling ons taal in die besonder ’n tweede asem gegee het. Dit sal baie jammer wees indien ons, as sprekers en leiers van die taal, nou só lomp te werk gaan dat ons onsself in die voet skiet nog voordat ons die eintlike debat geneem het na waar dit saak maak.
-
Die skrywer is ’n oudjoernalis en gewese ambassadeur.
