Rubriek – Beeld – 2010 03 04 – Die taalkaravaan rol aan

Danny Titus
Dit bly my opval hoe min ons Suid-Afrikaners van mekaar weet. Die apartheidsmure het lank reeds geval, maar dit lyk my die mure in ons koppe oor mekaar en van mekaar bly nog maar stewig orent.

Dis nou nie om in ’n Jeremiade te wil vasval nie, maar eerder om voort te gaan om daaruit te stap, om mekaar se kulture, tale en gewoontes te probeer verstaan. Dr. Leon Wessels se menseregteboekie staan steeds vir my so helder uit: Die titel is My Regte! Jou Regte? – Kom ons praat. “My regte” met ’n uitroep­teken en agter jou regte hang ’n vraagteken. Maar dan vra Wessels dat ons tog moet praat.
Hy verwys na Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, wat gesê het jy kan lief wees vir wie en wat jy is sonder om te haat wie en wat jy nié is nie.
Teen dié agtergrond het die ATKV met ’n gesprekreeks oor die diversiteit van die Afrikaanse taal begin. Die tweede gesprek was oor die ervaring van Islam met Afrikaans, die afgelope Saterdag by ons Goudini-spa in die Kaap.
Uit ons mediaverklaring: “Afrikaans is vir die ATKV baie kosbaar en dit is ook ons ervaring dat ons hierdie taal van ons baie goed moet oppas, beskerm en bevorder. Aan die ander kant is die ATKV ook ’n kultuurorganisasie gebaseer op Bybelse grondslag en Christelike waardes. Vir die ATKV is ons kultuur, kennis en kreatiwiteit daar vir die uitbou van ’n suksesvolle Suid-Afrika.
Dit is daarom met groot plesier dat ons hierdie eerste stap neem om hande te vat met ons Moslem-medeburgers juis rondom die kwessie van Afrikaans. Talle Moslems is reeds ATKV-lede en maak ruim gebruik van die fasiliteite by ons oorde.”
Die eerste spreker was mnr. Ebrahim Patel, vorige president van die voormalige swart rugby-unie, Saru. Hy vertel hy sou nooit daarvan kon droom dat hy oor Afrikaans by ’n ATKV-geleentheid sou kom praat nie. Vir hom is Afrikaans sy taal, sy huistaal waarmee hy met sy ma gekommunikeer het. Sy het gesterf in Afrikaans en hy is seker dat sy ook in die hiernamaals Afrikaans sal praat.
Hy vertel ook hoe hy en dr. Danie Craven met die transformasie van rugby mekaar moes vind en hoedat Afrikaans hulle daarin gedra het.
Hy vertel van sy kinderdae in Fietas en Vrededorp, hoedat N.P. van Wyk Louw hulle in Fietas kom besoek het. Hy pleit dat Afrikaans ook moet terugkom sodat hulle hul God (Allah) beter kan verstaan. Die Engels is net nie altyd so verstaanbaar nie.
Me. Munadia Karaam is ’n dinamiese jong Moslem-vrou van die radiostasie Voice of the Cape (VOC nogal!). Sy vertel van hul 200 000 tot 250 000 luisteraars vir wie Afrikaans vir die meerderheid ’n moedertaal is wat met toenemende gemaklikheid gepraat word.
Die Afrikaans-debat is egter vir hulle te verpolitiseerd en daarmee kan hulle hul nie verbind nie. Sy benadruk dat Moslems in Suid-Afrika baie meer regte en vryhede geniet as Moslems in ander lande, die VSA en Europa inkluis.
Dr. Michael le Cordeur van die Afrikaanse Taalraad vat ons terug na die beginjare aan die Kaap en vertel hoedat Nederlands reeds vroeg sy veranderinge ondergaan het vanweë die invloed van die slawe en spesifiek Islam. Die slawe wat van Indonesië gekom het, was veel meer geletterd as die Europese matrose wat saam met Van Riebeeck hier geland het. Hy vertel van die 17de en 18de eeuse Maleis, Boeginees en Maleis-Portugees, en veral Maleis, wat vandag bekend staan as Bahasa Indonesies.
Dié taal het nie net op Afrikaans ’n invloed gehad nie, maar ook op Nederlands – soveel so dat die VOC opdrag moes gee dat die slawe gedwing moes word om Nederlands te praat.
Afrikaans is weer prominent hier op die Stellenbosse Woordfees waar ek my nou bevind. Miskien sal Afrikaans ook eendag uit die kunstefeeste bevry word en sal ons haar in haar totale diversiteit kan geniet. Die ATKV se karavaan rol nou aan na die Noord-Kaap, waar veral die Tswana-mense Afrikaans as moedertaal ervaar.