Brief – Rapport – 2010 03 07 – Taalraad reeds suksesvol

wannie-carstens

Prof. Wannie Carstens, voorsitter ATR

    Ek verwys na F. le Roux van Villieria se brief (Rapport, 28 Februarie). Hy versoek dat “verteenwoordigers van alle groepe spoedig byeenkom” om “die voortbestaan van Afrikaans as taal” te bespreek.

    Ek wil hom en ander lesers graag daarop wys dat daar reeds so ’n geleentheid was, om die waarheid te sê etlike gespreksgeleenthede die laaste paar jaar, en daar is wyd in die media (koerante en radio) daaroor berig. Hierdie gesprekke het oor die loop van sewe jaar gelei tot die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad (ATR), wat ’n inklusiewe en verteenwoordigende liggaam, bestaande uit verteenwoordigers van die meerderheid groepe sprekers van Afrikaans, is.

    Hierdie liggaam doen die koördinering van Afrikaanse aktiwiteite deur middel van netwerkskepping en onderlinge skakeling. Suksesse is al op hierdie pad aangeteken. Afrikaanssprekers kan wel baie doen om ons te help met die uitvoer van ons taak: Gee jul tyd en energie vir ons. Maak ’n verskil in Afrikaans daar waar jy is. Gee jul gesindheid en welwillendheid. Afrikaanse mense is vriendelike mense; ons hoef nie Afrikaans se belange te benadeel deur rassisme of kwetsende opmerkings nie.?Gee jul geld en steun vir ons. Ons wil weet ons kan vorentoe op julle staatmaak. Daar is dus baie wat gedoen kán word. Soos Le Roux sê: Dit is nou tyd vir doen.