AfriForum het sy tevredenheid uitgespreek dat die regspan van Cerneels Lourens, ʼn prokureur van Brits, vanoggend oortuigende argumente in die hof gevoer het om te bewys dat die staat nie sy grondwetlike plig in terme van artikel 6(4) van die Suid-Afrikaanse grondwet nakom om te verseker dat die staat veeltalig optree nie. Die saak is in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor.
Volgens AfriForum is dit ʼn waterskeidingsaak wat die toekoms van dienslewering aan Suid-Afrikaners in hulle eie tale tot ʼn groot mate gaan bepaal. “Tans is ons ervaring dat Engels ten koste van alle ander landstale bevorder word,” het Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum wat vanoggend se hofsaak bygewoon het, verklaar. “Dit het tot gevolg dat die sprekers van alle ander tale in die land soos tweedeklas burgers behandel word en gedwing word om in Engels te funksioneer, of dienslewering te ontbeer. Dit ontneem ook die ander tale van die geleentheid om verder op hoëfunksievlak te ontwikkel.”
Bailey het Lourens gelukgewens met die inisiatief wat hy aan die dag gelê het om die saak in die Hooggeregshof aanhangig te maak. “AfriForum meen Lourens het ʼn sterk saak aangebied en sien uit na die uitspraak,” het sy gesê.
Uitspraak vind op Dinsdag 16 Maart 2010 om 10:00 in die Hooggeregshof in Pretoria plaas.
