Jeanne-Marié Versluis
Die regering moet ’n manier uitwerk om die 11 amptelike tale te akkommodeer. “Gelukkig is ek nie die regering nie,” het regter Ben du Plessis gister in die hooggeregshof in Pretoria gesê.
’n Kort debat – in Afrikaans en Engels – het gister voor hom plaasgevind in ’n hofaansoek wat mnr. Cerneels Lourens, ’n prokureur van Brits, teen die regering ingestel het. Lourens wil hê die regering moet taalwetgewing vir die gelyke behandeling van die amptelike tale aanvaar.
Du Plessis het gesê hy dink ook ’n nasionale taalbeleid “is ’n goeie idee”, maar as die Grondwet dit nie voorskryf nie, “wie is die hof om dit voor te skryf?” Die regering dink self dit is ’n goeie idee, het hy gesê.
Lourens vra die hof om drie bevele uit te reik: dat die president en ministers van kuns en kultuur en van justisie binne 12 maande of ’n tydperk wat die hof gelas ’n nasionale taalwet finaliseer en promulgeer; dat die president ’n taaloudit van die nasionale staatsdepartemente gelas; en dat die parlement gelas word om teen geen amptelike taal te diskrimineer nie, maar almal gelyk te behandel deur alle wetgewing in alle amptelike tale te laat publiseer.
Du Plessis het gesê sy “probleem” met die tweede bevel wat gevra word, is dat dit te ingrypend is. Oor die derde bevel wat gevra word, het hy gesê: “Ek dink daar is ook nie ’n grondwetlike onderbou daarvoor nie. Ek sien in die Grondwet die nasionale regering moet minstens twee tale gebruik. Ek sien nie ’n 11-talige bedryf nie.”
Adv. Quintus Pelser SC, namens Lourens, het gesê Lourens het in 2008 ’n brief in Afrikaans aan die minister van kuns en kultuur geskryf en hy is in Engels geantwoord. Sy hofaansoek is in Afrikaans, maar die staat se beantwoordende verklaring daarop is in Engels.
Die Grondwet onderstreep die burger se reg om in sy eie taal deur die staat bedien te word, het Pelser gesê, maar die staat negeer Lourens se reg om in sy eie taal bedien te word.
Du Plessis het gesê hy het “moeilikheid” om te beveel dat ’n wet gemaak moet word. ’n Verklarende bevel moet eerder gemaak word dat die regering sy plig (oor die regulering van sy eie taalgebruik) moet nakom.
Adv. Bashir Vally, namens die respondente, het gesê daar is maatstawwe om ander tale (as Engels) sekere prominensie te gee. Die Pansat-wet, Skolewet en Landdroshofwet is aanvaar.
Uitspraak word Dinsdag gelewer.
