Brief – Die Burger – 2010 03 10 – België wys belang van onderwystaal

deur Theo van Robbroeck, Stellenbosch

    Ek verwys na die artikel “Taal is nié US se kernopdrag” van Anton van Niekerk (DB, 9.03). Dit is duidelik dat sy taal, ondanks wat hy skryf, vir hom geen belang het nie. Hy behoort ’n slaggie besoek af te lê aan België en die geskiedenis van die vernederlandsing van die universiteite in Vlaandere na te gaan, dan sal hy dalk die belang van taal in die onderwys en spesifiek die hoër onderwys besef.

    Tot in die eerste dekades van die vorige eeu was die taal van al die universiteite in die Vlaamse deel van België uitsluitend Frans. Die gegradueerdes, met die uitsondering van enkele “taalstryders”, het totaal verfrans en neergekyk op hul volksgenote as agterlik, wat hulle destyds inderdaad was.
    Dit was eers weens druk van die sogenaamde Flamingante (die taalstryders) op die elite dat die Universiteit van Gent en later ander universiteite vernederlands is. Hoofsaaklik daardeur is die Vlaminge in België uit hul agterlikheid en armoede opgehef. Vandag het hulle die Franssprekendes in België ekonomies ver verbygesteek en is waarskynlik die welvarendste streek in Europa.
    Onlangs het ’n artikel in Die Burger verskyn van ’n ouma uit die bruin gemeenskap wat begin het om Engels te leer om met haar kleinseun te kan kommunikeer. Ek wonder of die bruin mense wat verengels besef watter onreg hulle hul arm en plattelandse lotgenote aandoen?
    Ekself het in 1952 nadat ek in Suid-Afrika aangekom het, verkies om die vyf jaar lange kursus in ingenieurswese op Stellenbosch te volg. Dit ondanks die feit dat dit vir my ’n ekstra jaar studie beteken het in vergelyking met dieselfde kursus by die Universiteit van Kaapstad. Stellenbosch was Afrikaans, wat ek weens die verwantskap met my moedertaal as my taal aangeneem het. Dit het my geensins in my loopbaan benadeel nie.