Brief – Die Burger – 2010 03 10 – Fakulteit moet sy doelwit nakom

deur Andries Jacob Brink, Durbanville

    Die fakulteit gesondheidswetenskappe is aan die Universiteit Stellenbosch gevestig met een belangrike doel, naamlik om hier in die suide gesondheidsdienste in Afrikaans te kon verskaf aan pasiënte van die stad en die platteland wat minstens 60% Afrikaanstalig was.

    Ekself is versoek om ’n goeie pos en praktyk in Pretoria op te gee om te kom help met die stigting van die Afrikaanse fakulteit en ter wille van Afrikaans het ek dit onderneem.
    Ek is ’n stigterslid van sowel die fakulteit self as die hospitale wat daaraan verbonde is. Die fakulteit is opgerig met geld wat verkry is van Afrikaansgesinde skenkers en deur geld in te samel van Afrikaanse ondersteuners in die platteland.
    Tans word geen woord Afrikaans by die departement van gesondheidswetenskappe gehoor nie – nie in die wandelgange nie en ook nie in die klaskamers nie.
    Die fakulteit het ook nog self geen standpunt ingeneem nie en dit is tyd dat hy homself uitspreek ten gunste van die basiese rede waarvoor die fakulteit gevestig is.
    Die Afrikaanse geneeskundige vaktaal is ook uitgebou tot ’n hoogstaande internasionaal erkende vlak en die Woordeboek van Afrikaanse Geneeskundeterme is tot stand gebring.
    As hierdie fakulteit nie die doel waarvoor hy opgerig is, kan of wil nakom nie, het hy geen reg op bestaan nie. Daar is reeds ’n ander Engelse fakulteit naby en dan moet hierdie een gesluit word.