Dan Badenhorst
Die stryd in Stellenbosch oor Afrikaans gaan uitloop op ’n Pyrrhus-oorwinning met Afrikaans as die verloorder.
Afrikaans het die bekoring van sy ontstaan in haar ons-hulle-jare daarna verloor. Dit was nie ’n steriele instruksietaal soos Fanagalô nie, maar ’n vars harmonie in die plek van slawe se verlore tale en afgeskeepte kulture. Jan Rabie het gehoop dit sou voortduur en dat Afrikaans as ’n moederloog die uitwasse van tale en mense in ons land sou saamsnoer.
As Afrikaans in sy ivoortorings ’n klap of twee kry, word dit nie eintlik op die vlakte gevoel waar dit werklik saak maak nie. Dit praat nie pogings goed om dit af te skaal vir ekonomiese agendas nie, maar twyfelaars dat Afrikaans na homself kan kyk, verloor die rede om daarvoor te stry. Die vloed van Afrikaanse feeste, toneelstukke, musiek en boeke wat deesdae spontaan lewe kry, is bewys dat ’n taal se oorlewing nie daarin lê dat dit akademies of nie globaal is nie.
Soos liefde sal bly nadat tale vergaan het, gee ’n beskeie vertroue in Afrikaans sonder vrees vir ander tale dit leefruimte. Gestroop van agendas is selfs Engels ’n bondgenoot – die emosie en diepte van Jan Celliers se “Dis Al” word ondersteun en versterk deur Guy Butler se “Gold, Blue, Veld, Sky”.
Omdat die geveg ’n politieke kleur het en gaan oor erkenning van, in plaas van respek vir Afrikaans, ondermyn dit die nederigheid wat Afrikaans sy lewenskrag en betekenis gee.
Die akademiese dogmatiste aan die een kant en ekonomiese globaliste aan die ander, moet eerder kragte saamsnoer.
