Brief – Die Burger – 2010 03 13 – Mag ’n Zoeloe op sy taal aandring?

Barend J. Alberts

Ek het met stomme verbasing die standpunt (DB, 10.03) van Steven Geor­gala, kandidaat in die Universiteit Stellenbosch se raadsverkiesing, gelees.
Veral sy stelling: “Die etniese samestelling van die universiteit se studente en akademiese personeel moet ’n realistiese weerspieëling van die wyer Suid-Afrikaanse gemeenskap wees.”
My vraag aan Georgala is: Geld dié argument alle universiteite? Kan ’n Afrikaanssprekende by Wits inloop en daarop aandring om klasse in Afrikaans te ontvang? Of kan ’n Zoeloe by ’n Kaapse universiteit inloop en op Zoeloe aandring as hy voel sy Engels is nie goed genoeg nie? Waarom dink Georgala moet die US agteroor buig en nie die ander nie?