Brief – Die Burger – 2010 03 13 – Nuwe perspektief as ou visie wegval

T.C. Wiese

Dit moet vir prof. Andries Brink (DB, 10.03) ’n ontnugtering wees dat die honderde geneeshere wat hy so noukeurig in Afrikaans opgelei het, toe hul rug gekeer het op die taal, die land en dié mense wat hulle veronderstel was om te dien.
Hul kinders word nou grootgemaak as jong Britjies, Kanadesies en Australiërtjies – dít nadat hulle hul met die geldelike steun van belastingbetalers en “Afrikaansgesinde skenkers” bekwaam het.
’n Mens is dus verbaas dat Brink steeds pleit vir meer opleiding in Afrikaans. Die vraag is: ter wille van wie? Of, ten diepste: Hoekom is ons hier?
Ná ’94 het positiefgesinde en committed Afrikaners besef die era van selfbehoud über alles en selfverryking is verby. Die enigste vaandel waaronder ons nou met selfrespek hier kan wees en werk, is diensbaarheid.
Dit behoort musiek in die ore te wees van diegene wat die Hippokratiese eed afgelê het, en ’n mens is dankbaar vir almal wat dit plaaslik probeer uitleef.
Die Afrikaanse kerke verdien ook krediet vir wat hulle doen om selfgerigte mense wat ontredderd voel, hierdie kopskuif te help maak. Wie gee, ontvang.
Brink is ontsteld oor die “geen woord Afrikaans” wat, volgens hom, meer in die wandelgange (daardie gelade woord!) en klaskamers van die mediese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch gehoor word nie.
Die rede hiervoor is eenvoudig: die wêreld, selfs die Tygerberg, sien vandag baie anders daar uit as in Brink se tyd. ’n Fakulteit met as sy bestaansrede, volgens Brink, die opleiding van een taalgroep se mense ter wille van daardie taal(groep) is nie meer polities en moreel haalbaar nie.
Val die ou en eksklusiewe Afrikaanse visie weg, kom daar ’n heel ander perspektief.
Dan sien en ervaar ’n mens geleenthede en vervulling, en nie net verlies en depressie nie.