Brief – Die Beeld – 2010 03 13 – Taal-loues aan US moet weer dink

JC (Koos) Kotzé

    Die briewe van prof. Andries J. Brink en Theo van Robbroeck (DB, 10.03) verdien die aandag van almal wat belang by Afrikaans en die Universiteit Stellenbosch het.

    Brink het oor baie dekades ’n uitmuntende rol as geneeskundige in Suid-Afrika gespeel en het ook lank die pos van dekaan van die destydse fakulteit geneeskunde beklee.
    Dit is ontstellend om uit sy mond te moet verneem dat daar “tans geen woord Afrikaans by die departement van gesondheidswetenskappe gehoor (word) nie – nie in die wandelgange nie en ook nie in die klaskamers nie”.
    Dit is hartverskeurend om te moet aanvaar dat ’n fakulteit wat opgerig is om gesondheidsdienste in Afrikaans te kon verskaf, taalgewys op die afdraandepad is. Aangesien Engels die voertaal van die weermag is, gaan dit ook nie by die fakulteit krygskunde veel beter nie.
    Van Robbroeck se skrywe beklemtoon die waarde van taal in die onderwys, veral op tersiêre vlak. Dit is juis die Vlaminge in België wat, as gevolg van moedertaalonderrig op hoër vlak, uit “hul agterlikheid en armoede opgehef” is. Hier in Suid-Afrika kan dit ook ‘n kompleterende rol speel.
    Dis tyd dat die “taal-loues” aan die Universiteit Stellenbosch ook ’n positiewe herwaardasie maak van die rol wat Afrikaans aan dié instelling behoort te kan speel.