Tim du Plessis
’n Nuwe tydsgees is aan die ontwaak. Mense, gemeenskappe, minderhede, noem maar op, staan op en sê: genoeg is genoeg. Nou vat ons ons regte terug.
Groepe en instansies uit alle sfere kom in verset teen die versmorende ANC-hegemonie van die afgelope tien jaar. Die Pretorianers veg vir hul stad se naam. Belastingbetalers weerhou dienstegeld uit protes.
In die townships is die middele van protes anders, maar die boodskap dieselfde: ons eis die regte wat die staat aan ons verskuldig is.
Solidariteit sleep hulle hof toe (en wen) oor die sotlike toepassing van regstellende aksie. ENB is tot ommekeer gedwing oor sy diskriminerende (teen wit mense) hulpskema vir werknemers wat swaar betaal aan kinders se skoolgeld.
Cosatu het sy stem teruggekry ná Polokwane en protesteer luidkeels teen tenderpreneurs. Hy hou aan vra, totaal oneerbiedig, vir leefstyloudits vir die ANC se vetkatte.
Swart redakteurs en meningsvormers word weer, soos in die apartheidsjare, die stem vir gewone mense. Hulle skrik nie vir die ANC se raspolitiek nie en kritiséér.
Sportbase wat jare lank gesidder en beef het voor die ANC, begin al hoe meer moed kry om ou Butana Komphela en sy lot in hul swernoot te stuur.
Oral word die regerende party se groot projek – die “nasionale demokratiese revolusie”, gemik daarop om die ANC in elke uithoek van die SA gemeenskap te laat domineer – in trurat gedwing.
Oral behalwe by die Universiteit van Stellenbosch (US). Daar gebeur die teenoorgestelde – regte word geabdikeer.
Die US se reg om ’n universiteit met ’n Afrikaanse skering en inslag te wees in ’n oorweldigend Afrikaanse gebied word algaande prysgegee. Dit terwyl die Wes-Kaap reeds twee Engelstalige universiteite het.
Die res van Suid-Afrika se burgerlike gemeenskap staan op en oefen hul regte uit. Stellenbosch kyk eerder hoe hulle dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en die land se laaste oorblywende Stalinis, kan paai en ter wille wees.
Die stutte vir Afrikaans as ’n volwaardige akademiese taal word stelselmatig op Stellenbosch uitgekap. Met die ironiese “uitkoms” dat die universiteit nie meer swart word nie, maar meer Engels, bepaald wit Engels.
Die US rig hom deesdae tot ’n anemiese elite uit ’n piepklein leefwêreld, die wêreld van die rykes, wit en swart. En Engels.
Terwyl sy missie moet wees om aan wit en bruin kinders uit die middel- en werkersklas in sy voedingsgebied ’n wêreldklas opvoeding te gee – in Afrikaans, hul moedertaal.
Die koddigste van alles is dat die US se nuut bekeerde “transformasie”-drywers dink hulle is cool. Terwyl hulle eintlik só laas seisoen is. Iemand moet hulle tog vertel die stryd tussen verlig en verkramp is verby. Verlig het gewen, die missie is voltrek.
Die kampe het ontbind. Daar’s ’n nuwe tydsgees wat ’n nuwe aanslag en uitkyk vra.
Pleks van te staan op die reg om ’n Afrikaanse universiteit te wees, maak hulle nou strooipoppe van die mense wat intree vir Afrikaans. Hermann Giliomee word vir ’n “taalbul” uitgekryt en sy karakter word beklad.
Hoe ironies. Toe die wedergebore verligtes nog knus in die ou Nat-establishment gesit het, was die “oorbeligte” Giliomee se denke hulle so ver vooruit hulle het hom verdryf van die US af, Ikeys toe.
Vandag probeer hulle ’n valse, ongeldige vraag aan die Matie-gemeenskap voorhou: Kies tussen Afrikaans en akademiese uitnemendheid. Asof die US akademies agterlik was toe dit ’n volwaardig Afrikaanse universiteit was!
Op ’n muur op die US-kampus verskyn dié woorde van D.F. Malan: “Waar Stellenbosch vandag staan, staan Suid-Afrika môre.” Nie meer nie. Deesdae arriveer Stellenbosch eers môre of oormôre.
