Helena Goosen
Dankie, Beeld, vir die gebruik van vonkelvars, vindingryke nuutskeppings wat Afrikaans verryk.
Soos die woord kleptokrasie wat sinspeel op diegene in magsposisies se onversadigbare grypsug om nog meer rykdom in te palm – ‘n gruwelike huwelik tussen kleptomanie en outokrasie!
’n Juweeltjie in Lood se rubriek op 10 Maart is die slim gebruik van die mediese term agglutinasie (sameklonting van bloedselle) om die onwillige samekoeking, sameklontering, konglomerasie tussen die alliansievennote te beskryf. Ek dink ek kan hierop verbeter met agglutinansie!
Nog ’n woordvonds is tenderpreneur om Malema en Kie. se onheilige geknoei te etiketteer.
Woorde en uitdrukkings soos flou makou vir sitting duck en die oortjies van die seekoei pleks van tip of the iceberg wat ek eerste in Beeld raakgelees het, het reeds deurgesypel na die spreektaal en is ’n aanwins.
