Mediaverklaring – 24 Mei 2008

ʼn Historiese oomblik vir Afrikaans het vandag waar geword met die stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR) op Wellington in die historiese Goodnowsaal. Na ʼn lang proses wat op 13 September 2003 begin het, het die breë Afrikaanse taalgemeenskap die voorgestelde Grondwet eenparig aanvaar. Die stigting is met groot toejuiging begroet! Die byeenkoms is deur meer as 40 organisasies bygewoon – die grotes, die kleineres, van die Noorde tot die Suide. Die organisasies is verteenwoordig deur ongeveer 100 beraadgangers wat meer as 500 000 mense verteenwoordig.

Hierdie liggaam het ten doel om ʼn koördinerende, netwerkskeppende en inklusiewe liggaam vir Afrikaans te wees. Die ATR beplan nie om die werk van ander organisasies oor te neem nie, maar om deur hierdie rol, die krag en doelstellings van alle lede-organisasies los te maak en te benut.

Die ATR is verbind tot inklusiwiteit ten opsigte van alle dele van die Afrikaanse taalgemeenskap en gaan van die standpunt uit dat Afrikaans die eiendom is van almal wat dit praat.

Die ATR onderskryf veeltaligheid en stel onder meer as doel om ook ander tale te bevorder. Die ATR is bereid om saam te werk met die sprekers van enige ander taal wat dieselfde doelwitte nastreef.

Die eerste Bestuur van die ATR is dan ook vandag verkies en bestaan uit:

Prof. Wannie Carstens (NWU en lid van die NTLA) as voorsitter;
Dr. Michael le Cordeur (Voorsitter Wes-Kaapse Taalkomitee) as ondervoorsitter;
Prof. Jacques van der Elst (SA Akademie) wat die Sekretariaat gaan behartig;
Dr. Danny Titus (Uitvoerende Hoof: ATKV) as Fondsbestuurder;
Mej. Alana Bailey (AfriForum);
Prof. Francois Bredenkamp (FAK);
Dr. Gerrit Brand (i-MAG);
Dr. Louise Combrink (Vriende van Afrikaans, Erfenisstigting);
Mnr. Hennie de Wet (Solidariteit en Erfenisstigting);
Me Ria Olivier (NTLA);
Dr. Karel Prinsloo (outeur van die taaloudit; Gryskrag);
Drs. Hendrick Theys (Trustee, SBA);
Dr. Piérre Theron (Afrikanerbond);
Mnr. Christo van der Rheede (SBA).

Die nuwe Bestuur het hulle daartoe verbind om so gou moontlik subkomitees te stig met die oog op bepaalde fokusareas, byvoorbeeld die Afrikaanse jeug; tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans; onderwys in Afrikaans; en bemagtigingsprojekte in Afrikaans.

Die Afrikaanse Taalraad nooi alle Afrikaanssprekendes om die oop gesprek met die ATR voort te sit en aktief aan die verdere diskoers oor Afrikaans deel te neem.

Die vergadering het ook ʼn spesiale oomblik van stilte gehandhaaf om hulle empatie met die slagoffers van die huidige vlaag van xenofobiese geweld in Suid-Afrika te betoon.

Kontakpersoon: Dr. Michael le Cordeur by mlecorde@pgwc.gov.za of 021-887-0222.