Verwerping van dreigement teen minister Lesufi

Dreigement teen minister Lesufi

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) verwerp die ophang van ʼn pop met Gautengse onderwysminister, Panyaza Lesufi, se gesig voor die Departement van Basiese Onderwys in Pretoria. Sulke dreigemente is onaanvaarbaar en afstootlik, ongeag wie daarvoor verantwoordelik is.

 

Ons hoop die minister, die departement en die regering van Gauteng sal die daad herken vir wat dit is: ʼn poging om polarisering oor taal en onderwys te verdiep. Dit verteenwoordig ʼn klassieke taktiek wat wêreldwyd deur radikale of manipulatiewe elemente gebruik word om politieke en maatskaplike kwessies te probeer beïnvloed.

 

As Suid-Afrikaners kan ons nie toelaat dat onbekendes dit regkry om die klimaat waarin die gesprekke oor taal en onderrig plaasvind, te vergiftig of te manipuleer nie. Ons vra dat die insident nie voor die deur van Afrikaans en Afrikaanssprekendes gelê word nie; ook dat die legitieme behoeftes van baie ouers en kinders vir moedertaalonderrig nie hieraan gekoppel word nie. Die demonisering wat met persepsiepolitiek gepaardgaan, is destruktief en ontwikkel dikwels ʼn lewe van sy eie.

 

Wie word deur ʼn daad soos hierdie bevoordeel? Beslis nie Afrikaanssprekendes nie. Dit ondermyn ook gesprekke oor moedertaalonderwys in die breë en inklusiewe sin van die woord, iets wat die ATR en vennote met woord en daad bevorder.

 

Conrad Steenkamp