Kokertoekennings 2018

Sewe Kokertoekennings is die afgelope Vrydagaand in Pretoria by die sesde Kokerfunksie van die Afrikaanse Taalraad (ATR) uitgedeel. Die toekennings word jaarliks gedoen aan mense uit alle agtergronde wat Afrikaans in verskeie taalfunksies aktief bevorder, beskerm of die sprekers deur Afrikaans bemagtig. Ter viering van die Taalraad se tiende bestaansjaar is ’n dekadeboek ook bekendgestel, waarin verskeie rolspelers hul ervaring van die ATR-landskap oor die afgelope dekade deel.

 

Die TV-aanbieder en joernalis Heindrich Wyngaard, ’n voorstander van ’n vriendelike, inklusiewe Afrikaans, het die Koker vir die bevordering van Afrikaans ontvang. “Hierdie toekenning gee erkenning aan my ma en die anties wat saam met haar op die uieland gewerk het. Dis waar ek voorskools my Afrikaans geleer het: in die koelte onder die plaaslorrie. Dit moedig my ook aan om meer te doen vir die opheffing van bepaald bruin en swart Afrikaanssprekendes wie se beeld steeds nog dié van ‘tekortskietende wesens’ in Jakes Gerwel se woorde is.”

 

Die Koker in die beskermkategorie het aan prof. Ina Wolfaardt-Gräbe gegaan. Sy het die voortbestaan van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, die enigste Afrikaanse akademiese tydskrif met internasionale aansien, verseker. Volgens Wolfaardt-Gräbe het ’n gasredakteur die tydskrif onlangs bestempel as “een van die laaste vestings van Afrikaans as akademiese taal”.

 

Vanjaar se bemagtigingstoekenning het gegaan aan vader Vernon Macaskill Meyer as verteenwoordiger van die Oratorium van Sint Filip Neri van Oudtshoorn. Meyer en sy kollegas bedryf die Afrikaanse Taalapostolaat van die Konferensie van Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe onder die vaandel van die Afrikaanse Taal Pastorale Streek. Hulle werk behels onder meer die verskaffing van amptelike Afrikaanse vertalings van kerkdokumente en geestelike en pastorale leesstof in gedrukte en elektroniese formaat.

 

Drie jeugtoekennings is gemaak. YOMA (Claudia Witbooi) het as kletsrymer met haar album Moedertaal ’n wye bewustheid van die belangrike rol van Afrikaans as moedertaal onder veral jong vroue geskep. Nico Scheepers, dramaturg en regisseur, maak sedert 2014 sy merk op die Afrikaanse teaterlandskap met innoverende tienertoneel. Sonia Elie bedryf ’n boekwinkel, Die Boekfeetjie, uit haar huis in Eldoradopark. Sy bevorder ’n leeskultuur in Afrikaans vir kinders, maar veral ook vroue deur middel van boekklubs en boekbesprekings.

 

’n Spesiale Kokertoekenning is oorhandig aan Sakkie Kotze vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans deur die bevordering van gehalteonderwys en onderwysleierskap. Hy het ook ’n wye reeks dinamiese kultuurprojekte in Afrikaans en oor taalgrense heen geïnisieer. Hy sê hy is baie lief vir Afrikaans en praat dit met trots. “Dit bly ’n voorreg om ons taal op allerlei wyses te bevorder.”

 

Die ATR se dekadeboek kyk terug op die afgelope tien jaar se hoogtepunte en uitdagings (steil hellings, diep slote en ontwrigtende padversperrings), maar ook op vordering met alliansiebou en jongmense se begeesterde liefde vir hul moedertaal. Buiten die terugskouing, roep die boek die leser op om saam met die ATR die uitdagings van die volgende tien jaar aan te pak.

 

“Tale is ’n belangrike bate op Suid-Afrika se balansstaat,” het Japie Gouws, voorsitter van die ATR, by die funksie gesê. “Ons moet hierdie bate gebruik tot voordeel van alle sprekers daarvan, en ook die waarde van veeltaligheid ontsluit tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.”

 

Tim du Plessis, hoof van aktuele sake by kykNet en die genooide spreker by die geleentheid, het gesê die ATR is ’n belangrike ruimte waarin die gemeenskaplikheid van bruin, swart en wit Afrikaans verken word. Hy het bygevoeg dat dit altyd ’n proses sal wees en nie ’n einddoel nie.

 

Hoëresolusie-weergawes van die foto’s op die volgende twee bladsye kan aangevra word by Marekyn Kruger-Evert by marekyn@afrikaansetaalraad.co.za. Onderskrif-inligting kan aangevul word uit die inhoud van die mediavrystelling. Die foto’s is geneem deur VK View Photography.

 

 

Sue Pyler van RSG was die seremonieleier
by die ATR se Kokertoekenningsfunksie die afgelope Vrydagaand.
Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, stel die genooide spreker by die Kokertoekenningsfunksie bekend.
Vanjaar se Kokerwenners. Agter v.l.n.r. is Sakkie Kotze, Nico Scheepers en Heindrich Wyngaard. Voor is Sonia Elie, YOMA (Claudia Witbooi) en Ina Wolfaardt-Gräbe. Vader Vernon Macaskill Meyer kon nie die funksie bywoon nie.

 

Tim du Plessis (hoof van aktuele sake van kykNet) was die genooide spreker by die
ATR se Kokertoekenningsfunksie.
Heindrich Wyngaard het die Kokertoekenning vir die bevordering van Afrikaans ontvang. By hom is prof. Anne-Marie Beukes, wat sy commendatio gedoen het, en die ATR-ondervoorsitter, Fatima Allie, wat die toekenning oorhandig het. Die kletsrymer YOMA (oftewel Claudia Witbooi) het ’n Koker-jeugtoekenning ontvang vir haar bewusmaking van Afrikaans as moedertaal onder veral jong vroue.

 

ATR-direksielede. Agter v.l.n.r. is Willa Boezak, Flip Buys, Annelise de Vries, Michael Jonas, Sinki Mlambo, Conrad Steenkamp en Louis du Plessis. Voor is Fatima Allie, Japie Gouws, Anne-Marie Beukes en Karien Brits. Sonia Elie (middel) het ’n Koker-jeugtoekenning gekry vir die bevordering van ’n leeskultuur. Hier kry sy ’n hartlike druk by die ATR-programbestuurder, Ria Olivier, terwyl die ATR-direksielid Sinki Mlambo toekyk.
Die ATR-direksielede Louis du Plessis en Flip Buys saam met prof. Ina Wolfaardt-Gräbe, wat die Tydskrif vir Geesteswetenskappe as akademiese tydskrif laat voortleef. Die Kokerwenner Heindrich Wyngaard saam met die ATR-voorsitter, Japie Gouws, en die seremonieleier, Sue Pyler.
Sakkie Kotze het ’n Spesiale Koker ontvang vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans. By hom is die ATR se uitvoerende direkteur, dr. Conrad Steenkamp, en die ATR-voorsitter, Japie Gouws. Simon Witbooi (die kletsrymer Hemelbesem) en sy vrou, Claudia Witbooi (die kletsrymer YOMA), geniet ’n glasie rooiwyn by die Kokerfunksie.