Die geloofsinisiatief ten opsigte van moedertaalonderrig in die Kerk

Oogmerke van die projek

• Vasstelling van die taal van leer en onderrig in die gemeentestrukture

• Vasstelling van uitdagings binne die geloofsgemeenskappe ten opsigte van leer en onderrig binne die Kerk

• Vestiging van verhoudings met die gemeenskappe om geïdentifiseerde uitdagings gesamentlik aan te spreek.

• Ondersteuning van die gemeenskappe om moedertaalonderrig in alle strukture binne die Kerk te bevorder

• Vestiging van ‘n netwerk sodat gemeenskappe beter onderlinge kontak kan hê

• Aanmoediging van individuele gemeentes om aktiewe lede van die ATR te word.

Tot dusver verloop die ondersoek goed. Baie goeie samewerking van die geloofsinstansies het die proses vergemaklik.
Wat veral opvallend is met die ondersoek op die huidige oomblik, is dat die die heersende taalkwessie toenemend ‘n uitdaging sal word, en dit het proaktiewe optrede nodig. Veral in die stedelike gebiede met sy toestroming van mense uit verskillende taalagtergronde sal geloofsinstansies hierdie kwessie onder die loep moet neem. Daar moet rekening gehou word met die feit dat dat die boodskap almal moet bereik, en om dit te verseker, moet dit in ‘n verstaanbare taal oorgedra word. Dit is onaanvegbaar dat die effektiefste medium van oordrag jou moedertaal is. Ons taak is om hierdie boodskap van die waarde van moedertaal so wyd moontlik in die geloofsgemeenskappe te versprei om te verseker dat hierdie essensiële komponent van kultuur, naamlik taal, bevorder en beskerm moet word.
My besoeke aan geloofsleiers het getoon dat daar vele uitdagings is met betrekking tot taal in die geloofsinstansies, selfs waar die medium van onderrig en prediking in een taal is. Omdat ons in ‘n veeltalige land bly, maak migrasie dit bykans onmoontlik om eentalig te bly. Daar is ook ‘n toename in andertaliges in die woonbuurte wat voorheen wat net uit Afrikaans- of Engelssprekende gemeenskappe bestaan het. Die meeste skole en kerke moes hiervoor voorsiening maak. In die areas waarop ons vir hierdie inisiatief fokus, is die prentjie dieselfde . Dit is egter opvallend dat in die areas wat deur die NG kerke bedien word, die situasie min of meer onveranderd gebly het. Daar is min nuwe intrekkers omdat hierdie gebiede gevestigde areas is. Daar is ‘n geringe toename in andertaliges, maar hierdie stadige proses mag in die verre toekoms die kerke in hierdie areas noop om hulle taalbeleid te verander om godsdiens toeganklik vir diegene te maak. By sommie kerke was daar reeds veroeke dat daar a fen toe in die kinderdienste Engels gepraat moet word.
In die tradisionele bruin woonbuurte is daar egter ‘n groter invloei van mense uit ander gebiede wat nie Afrikaanssprekend is nie. Hierdie kerke moes dus voorsiening maak vir andertaliges soos Engelssprekendes. Ander buitelandse inwoners verkies ook Engels as die voertaal. Daar is ook ‘n beduidende verskuiwing na Engels by veral die jonger kerkgangers, en meermale moet daar in die kinderdienste en jeugdienste oorgeskakel word na Engels omdat almal in die dienste geakkommodeer moet word. Daar word soms oorgeskakel na Engels ter wille van ‘n paar kerkgangers wat nie Afrikaans so goed verstaan nie. Dit benadeel die prediking aan die Afrikaanse volwasse lidmate asook die kinderdienste, want hulle verstaan nie so goed die nuwe taal van prediking en leer nie.
Geloofsleiers het ook hul kommer uitgespreek oor die keuse van Engels by vergaderings van veral die Gereformeerde kerke, want die afgevaardigdes wat gewoonlik uit gewone Afrikaanse lidmate bestaan, nou ontmagtig is, want hulle kan hulle nie goed daarin uitdruk nie, en voel boonop onbevoeg om hul gedagtes in Engels oor te dra. Hulle word dan effektief uitgesluit in die besprekings waar hulle gewoonlik hulle opinies met selfvertroue in hulle moedertaal kon stel. In een van die ringe in die Wes-Kaap is daar ‘n tolkstelsel wat volgens die voorsitter baie effektief is, en die afgevaardugdes is blykbaar baie tevrede daarmee. Die VGK het ‘n 50/50-beleid (Afrikaans/Xhosa), maar die taal van bespreking binne die vergaderings geskied in Engels. Een geloofsleier gebruik byvoorbeeld Power Point om ‘n samevatting van sy boodskap in die ander taal op die skerm te gooi. Gevolglik verseker hy dat die gemeentelede wat nie die preektaal mooi begryp nie, die kern van die preek is hul taal te sien.
Een van die oogmerke is om ‘n samekoms van geloofsleiers byeen te bring om beste praktyke met mekaar te deel, maar ook om gesamentlik oor die uitdagings rondom taal binne die kerk te bespreek en oplossings te soek daarvoor. Dit behoort vroeg in Februarie volgende jaar plaas te vind.
Hierdie projek se omvang is so groot, maar ons het al die eerste tree gegee om dit aan te spreek