Dis Kokerseisoen en dis nóú tyd om iemand te nomineer!

 

DIS NOU JOU KANS OM KOKER-ONTVANGERS TE NOMINEER!

Die Kokers is die Afrikaanse Taalraad se manier om erkenning te gee aan mense wat besondere bydraes tot Afrikaans gemaak het. Vanjaar se wenners sal in die week van 16 tot 20 November op ons sosialemediaplatforms aangekondig word.

 

Kategorieë
Kokers word in drie kategorieë toegeken:

 

Kategorie 1: Kokers vir besondere prestasie

Kokers word toegeken aan mense wat ’n wesentlike bydrae gemaak het tot een of meer van die onderstaande subkategorieë:

  • Bevordering van Afrikaans
  • Beskerming van Afrikaans
  • Bemagtiging van Afrikaanssprekendes

 

Jy kan een persoon vir al drie subkategorieë nomineer of drie afsonderlike mense – een in elke subkategorie. Een kandidaat kan egter nie in meer as een kategorie wen nie.

 

Kategorie 2: Spesiale Kokers vir ’n lewenslange bydrae tot Afrikaans

Hierdie kategorie is gemik op afgetredenes of mense aan die einde van hulle loopbaan. Jy kan een of twee kandidate in hierdie kategorie nomineer.

 

Kategorie 3: Jeugtoekennings

Hierdie aansporingsprys is gemik op jong mense wat Afrikaans op nuwe maniere inspan en geesdrif vir die taal onder ander jeugdiges kweek. Jy kan een of twee kandidate in hierdie kategorie nomineer. Ons gee drie toekennings aan mense wat 35 jaar of jonger is.

 

Wie kan genomineer word?

Die belangrikste maatstaf is betrokkenheid by Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap. Ons mik om die net wyd te gooi en bydraes op gemeenskapsvlak in te sluit.

 

Die Taalraad kies die finaliste op grond van die inligting wat die nomineerders verskaf of wat ons andersins bekom het.

 

Gebruik asseblief die nominasievorm om jou kandidaat of kandidate voor of op 30 September te benoem.