GESLAGSBALANS VIR ’N BETER SUID-AFRIKA

Die tema van vanjaar se Internasionale Vrouedag is #BalanceforBetter.  Die ATR het ’n aantal vroue genooi om ons op reis te neem na ’n begeerde eindbestemming: ’n meer geslagsgelyke samelewing gemik op ’n beter Suid-Afrika. Sommige bydraes sal op die rol van die vrou fokus, ander op bepaalde kragte in die samelewing wat geslagsgelykheid belemmer.

 

Ons skop af met ’n bydrae deur Amanda Strydom, bekende Afrikaanse sangeres, skrywer en aktrise.

 

Foto: Merwelene van der Merwe

 

Ek is gebore op 23 Julie 1956. Twee weke en drie dae later het ’n groep dapper vroue na die Uniegebou gemarsjeer uit protes teen die onmenslike paswette. Dertig jaar later, toe my politieke bewussyn ontwaak het, het ek ‘n lied geskryf en gesing oor ‘n vrou wat haar pas dra in haar stukkende jas. En sy het gewag. Gewag vir geregtigheid, vir vryheid, vir waardigheid. Dit het my in onguns laat beland by ‘n vroeër waarderende publiek.

 

Dit was 1986, ons land het gebuk gegaan onder apartheid, die townships het gebrand, ‘n noodtoestand is afgekondig en ek het skokkende beelde op TV gesien van ‘n vrou wat met die “necklace”-metode in ‘n motorband verbrand word. Haar moordenaars het haar as ’n verraaier tereggestel. Daardie beelde bly my vandag nog by. Ek was ook gesien as ‘n “verraaier”.

 

Hier is ons nou, in 2019.  Apartheid is ‘n aaklige, vae herinnering. Daar is vroue in magsposisies, vroue beklee waardige poste en voeg waarde toe tot ons samelewing. Tog voel ek dat ‘n gebrek aan respek vir vroue steeds botoon voer. Hoe stel mens hierdie eeue-oue wanbalans reg?

 

Ek glo onwrikbaar dat dit begin by opvoeding – seuntjies moet van kleins af leer om vroue te respekteer en te eer. Waarom moet ons net Augustus as Vrouemaand vier? Waarom is elke dag van elke jaar nie gelaai met respek en bewondering vir vroue nie? Belangriker nog – vroue moet glo in hulleself. Jy is waardig, jy is edel, jy is ‘n rots.

 

“You strike a woman, you strike a rock!”

 

Ek sluit af met ‘n uittreksel uit my lied “Ek sal staan”:

 

 

Jy kan my breek, jy kan my slaan.

Jy kan my sê dat ek moet gaan.

 

Vat my hoop, vat my bloed, vat my laaste druppel moed;

ek sal staan.

 

Bring die wind, bring donderweer.

Bring die heelal om my neer;

ek sal staan.

 

Ek sal staan, jy kan maar lag.

Ek sal staan, stuur maar die nag,

 

Maar ek sal staan!