HOE VERBETER ONS DIE FINANSIëLE VOLHOUBAARHEID VAN AFRIKAANSE ORGANISASIES?

Oor die volgende twintig jaar gaan die Afrikaanse bevolking matig groei. Dit beteken daar gaan meer Afrikaanse leerders en studente wees, en meer Afrikaanssprekendes wat basiese dienste nodig het. Terselfdertyd gaan die Afrikaanssprekendes se relatiewe aandeel van die totale bevolking krimp wat beteken dat proporsioneel minder hulpbronne vir Afrikaanssprekendes beskikbaar sal wees.

 

Teen dié agtergrond is dit duidelik Afrikaanse maatskappye en nieregeringsorganisasies (NRO’s) sal nóg meer in die bresse moet tree as wat tans die geval is. Maar gaan hulle dit kan doen? Hoeveel geld is beskikbaar vir Afrikaanse organisasies en watter veranderinge staar befondsing vir Afrikaans in die gesig? Hoe volhoubaar is Afrikaanse organisasies?

 

Groot Afrikaanse organisasies soos die ATKV met sy vakansieoorde beskik oor ’n volhoubare besigheidsmodel. Etlike organisasies verbonde aan die Solidariteit Beweging het voorts soos ’n koning Midas daarin geslaag om hulle sterk lidmaatskap- en diensnetwerke in te span om besighede te skep en inkomstes te genereer.

 

Sommige van dié organisasies slaag ook goed daarin om hulle netwerke en die media vir sogenaamde crowd funding te gebruik. Minder sigbare organisasies met kleiner netwerke sukkel om dié sukses te dupliseer. Hulle kan dit wel oorweeg om platforms soos GivenGain te gebruik om internasionale crowd sourcing te doen, hoewel hierdie diens ook aan ’n fooi onderhewig is. Die kompetisie op dié en soortgelyke platforms is ook aansienlik, wat dit minder aantreklik as ’n opsie maak.

 

Baie Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies maak dus sterk staat  op die ondersteuning van enkele groot befondsers soos die Dagbreek Trust, Het Jan Marais Nationale Fonds en ander. Ook maatskappye soos Naspers, Toyota, ABSA en Sanlam figureer tradisioneel as (soms belangrike) befondsers van Afrikaanse inisiatiewe; deesdae ook Virseker en instansies soos die xxxxxx.

 

Die rasgebaseerde maatreëls waaraan korporatiewe skenkers moet voldoen, maak dit egter toenemend moeilik om skenkings vir inisiatiewe wat “slegs” Afrikaans bevorder met sommige van hierdie donateure te beding. Organisasies se afhanklikheid van enkele groot donateure maak Afrikaanse organisasies ook kwesbaar vir skielike beleidsveranderings aan die kant van hulle weldoeners. Die verlies van slegs één van dié donateurs kan ’n groot impak op die betrokke NRO hê en die volhoubaarheid van hulle programme in gevaar stel.

 

’n Wyer stel moontlike befondsers sluit in die plaaslike verteenwoordigers van instansies soos die Vlaamse regering, die Nederlandse Ambassade, die Konrad Adenhauer-stigting, Frederich Ebert-stigting, Ford-stigting, die George Soros-stigting, USAID en ander. Hulle kan tot betroubare befondsers ontwikkel, hoewel taalinisiatiewe selde prioriteit geniet. Ook krimp die befondsing in hierdie sektor eerder omdat Suid-Afrika vir etlike van dié instellings nie meer as ontwikkelingsland geld nie.

 

Internasionaal het die beskikbare sosiale befondsing ten spyte van Covid en die Russiese aanvalsoorlog in Oekraïne verrassend genoeg gegroei en is daar meer geld in die sisteem as tevore. Aansoeke by die “top 20” groot internasionale donateure of stigtings vereis egter gewoonlik aansienlike moeite met lae kanse van sukses. Die meeste middelslag-NRO’s het dus eenvoudig nie die kapasiteit om hierdie hulpbronne te ontsluit nie. Informasiedienste soos Funds for NGO’s kan dit in beginsel makliker maak, maar wees versigtig. Befondsingsgeleenthede vir taal- en kultuurinisiatiewe bly so skaars soos hoendertande en Funds for NGO’s is ook onderheweig aan ’n stewige jaarlikse fooi.

 

Taalorganisasies of -inisiatiewe wat nie die bogenoemde hulpbronne kan ontsluit nie ontvang dikwels hulp van meer gevestigde NRO’s, hoewel hulle vermoëns as befondsers dikwels beperk is. Daarbenewens kan NRO’s dikwels ook staatmaak op (beperkte) lidmaatskapsgeld, kleinskaalse plaaslike borgskappe, of kulturele entrepreneurskap (T-hemde, koppies, selfgepubliseerde boeke, ens). Dit is vir hulle oor die algemeen baie moeilik om die besigheidsmodelle van die groter en meer gevestigde NRO’s te dupliseer.

 

Oor die keper beskou, gaan die hulpbronne wat vir Afrikaans en Afrikaanse NRO’s beskikbaar is in die voorsienbare toekoms dus krimp, wat gevolge vir die hele Afrikaanse ekosisteem het. Onder andere is die ou bestel waarvolgens alle NRO’s op die klein aantal groot befondsers staatmaak, ’n onvolhoubare gemaksone. Afrikaanse organisasies sal hulle befondsingsmodelle en -strategieë moet diversifiseer om onafhanklik en volhoubaar te bly.

 

Wat is die opsies? Hiermee ’n aantal moontlikhede.

  • Gemeenskapsgebaseerde NRO’s sal waar moontlik borgskappe van plaaslike besighede en instellings moet ontsluit. Die Taalraad en ander organisasies kan sekerlik hiermee help deur inisiatiewe te kontekstualiseer en versoeke skriftelik te ondersteun.
  • NRO’s moet ook aandag gee aan die bykans 300 besighede wat op die JSE gelys is, om van die talle ongelyste maatskappye nie te praat nie. Daar is baie meer opsies as wat ’n mens dink.
  • Dieselfde geld vir internasionale stigtinge. Vermy die top 20 en soek eerder onder die derduisende kleiner stigtinge internasionaal. Maak gebruik van professionele fondsinsamelaars om dié hulpbronne te ontsluit indien nodig.
  • Laastens is daar die hersenskim van testamentêre bemakings. Enigiemand met goeie raad oor hoe dié geteiken kan word, moet asseblief laat weet (atr@afrikaansetaalraad.co.za).

 

Ten slotte: dit is duidelik Afrikaanse organisasies moet hulle befondsingstrategieë herbedink. Dalk is ’n NRO-werkswinkel met die deelname van etlike befondsers en spesialiste ’n manier om nuwe beweging te bring.