Kokerwenners 2020: Zalman Davis – Jeugkoker

 

Zalman Davis, Kapenaar van geboorte en tans woonagtig in die Vrystaat, is eintlik Engelssprekend. Hy het egter ’n besondere liefde vir Afrikaans.  Hy het bekendheid verwerf as die land se jongste uitgewer van hoofsaaklik Afrikaanse boeke. Op 23 het hy reeds naam in die skrywerswêreld gemaak en verskeie bekende skrywers soos Malene Breytenbach en die digter Thomas Deacon se titels uitgegee, wat uitstekende resensies ontvang het, onder meer van ʼn gesaghebbende soos Joan Hambidge. Nog ‘n bekende skrywer, R.R. Ryger, se werk word ook deur Minimal Press gepubliseer.

 

Sy liefde vir Afrikaans blyk daaruit dat hy as jong uitgewer eiehandig verskeie kompetisies vir opkomende skrywers en digters aangebied  het. Die jongste hiervan is die Chris Barnard-prys in samewerking met Katinka Heyns en die Ingrid Jonker L’Art Poétique-digkompetisie. Die wenners se werk is in bundels gepubliseer. As jong uitgewer spog hy ook reeds met verskeie titels in toonaangewende winkels dwarsoor die land. Hy het reeds baie blootstelling in die gedrukte sowel as die elektroniese media gekry, en onderhoude op ENCA en Enuus op kykNet.

 

Sy lewe wentel om die skrywerswêreld en die literêre radioprogram Subteks, wat hy tans op drie FM-radiostasies aanbied, te wete Radio Laeveld, Kosmos Stereo en JouRadio, getuig hiervan. In dié program voer hy onderhoude met skrywers en bespreek hy boeke en die jongste literêre neigings. Hy en die skrywer, Jeanette Ferreira, werk tans saam aan ‘n Eugène N. Marais-huldigingsbundel wat volgende jaar op die 85ste herdenking van die digter se sterfdag gaan verskyn. Bydraes vir dié bundel is reeds ontvang van groot name in Suid-Afrika, soos Erik Holm, Johann Lodewyk Marais, Johan Kruger, Michael Green en Kirby van der Merwe, om net ‘n paar te noem.

 

Zalman Davis se kennis van Afrikaans en die Afrikaanse skrywerswêreld maak van hom ’n buitengewone ambassadeur van Afrikaans en ʼn waardige wenner van ʼn Jeugkoker.