Moedertaalinisiatief se Kopskuifouers

Soos ons wegloop, keer sy ons voor – een van die mammas wat pas na ons geluister het by die opedag vir die graad 1’s.

“Luister hier julle menere,” val sy weg.

“Vandag het ek vir die eerste keer die waarheid gehoor. My oudste dogter, in graad 8 en net veertien jaar oud, weier om verder skool te gaan. Hierdie skool het my laat weet my graad 4-kind sal na ‘n vaardigheidskool moet gaan. Maar ek sê nou vir julle, ek gaan nie dieselfde fout met my graad R-seuntjie maak nie.”

“Wat’s dan die fout, mevrou?”

“Dis die moedertaalding wat julle nou hier van gepraat het. Nee kyk, ek wou mos toe my kinders Engels grootmaak. Maar ek is Afrikaans, my man is Afrikaans, my familie is Afrikaans, ons hele buurt is Afrikaans. Nou weet ek dis ek wat só die kinders se taal opgemors het. Dis nie die kinders wat die probleem is nie, dis ek. So ek gaan nou hier in en gaan die prinsipaal vra om my seuntjie dadelik uit daai Engelse klas te haal en in die Afrikaanse klas te sit. Baie dankie!”

 

Ons drie pêre kyk mekaar selfvoldaan aan.

 

 

 

Hulle sit in ingeryg soos sardientjies in die natale kliniek – effense- en hoogswanger mammas en talle met kleintjies op hul skote en sommige vasgedruk teen hul borste. Dis duidelik, sê ons vir mekaar, die geboortebeperkingding werk nie lekker hier rond in Suid-Afrika nie.

 

Ons val weg en bombardeer hulle met feite, navorsingsresultate, blote ondervinding en ‘n teatrale vertoning in ons taal, die rooitaal en nuanses van nog ‘n taal. Kyk, meertaligheid is die inding, maar Afrikaans is die dikding!

 

Soos ons praat, knik die koppe. Soos ons praat, begin die monde oophang. Soos ons praat, begin hulle saampraat.

 

“Haai, dis waar.”

“Ek het my man gesê ons moenie die kinders verwar nie.”

“Dis hoekom die kinders so op straat is.”

“Nou verstaan ek waarom my kind so sukkel.”

“Dis nie die onderwysers se skuld nie, dis ons as ouers se skuld.”

“My Engelse kinders kan nie met my ouers gesels nie, want hulle is Afrikaans.”

 

En so gaan dit aan, dag na dag, week na week, elke keer wanneer ons met ouers praat. Dis duidelik dat die groot voorstomende skip se brieke daadwerklik aangedraai word.

 

 

 

Ons kom by die prinsipaal se kantoor uit waar ons pas heerlik koek en tee gevat het. Gawe juffrou dié.

 

Voor haar kantoor sit agt mammas met hul graad 1-bloedjies.

 

“En as julle so sit?” Juffrou kyk hulle vraend aan.

 

Die tannies kyk na mekaar en dan kom dit in koorsang uit.

 

“Ons kom ons kinders se taal verander van Engels na Afrikaans, juffrou.”

“Die menere praat die waarheid, juffrou.”

“Ons is Afrikaans, juffrou. Dis ons moedertaal.”

 

Juffrou kyk vir ons en ons kyk mekaar en ons harte bons wild vir ons moedertaal.

 

 

 

Haley se ouers het lofwaardig kort voor haar geboorte die helder moerdertaallig gesien. Toe groet ons die nuwe aankomeling in haar moedertaal.

 

Nou hier is ‘n eerstekeer-mamma duisend. Venerecia het onder aansporing geen steen onaangeroer gelaat om met die ou dingetjie in die “suiwerste” Afrikaans te praat nie. Geen babataal nie.

 

Sy het van meet af aan vir Haley stories gelees terwyl die kleinding daar lê en skop en handeswaai en takketakketa. Die skoolgaande niggies het ook ingespring met die lesery.

 

Kom ek net eers sê, dié is familie. Maar nou-ja, ons werk mos maar oortyd.

 

Nou toe Haley begin woordjies sê, toe brabbel sy … in duidelike Afrikaans. Die kind het spoedig begin woordjies inryg. Nou praat sy reeds volsinnetjies … vanaf 18 maande al.

 

En verder – Haley het nog nooit ‘n boek geskeur nie. Sy skeur nie eers ‘n tydskrif of koerant nie. Sy wil net praat en lees en praat … in Afrikaans!

 

Bravo, Venerecia en Colen! Laat wiel in Afrikaans, Haley.