Kokertoekennings 2018

 

As jy met Afrikaans kook, is jy dalk binnekort ’n Kokertoekenning ryker. Die Afrikaanse Taalraad (ATR) nooi lede en die algemene publiek uit om kandidate vir die jaarlikse Kokertoekennings te benoem.

 

Die Kokers word jaarliks sedert 2013 toegeken om erkenning aan mense te gee wat besondere bydraes tot Afrikaans gemaak het. Bekendes wat al Kokers ontvang het, sluit onder andere in Adam Small, Ton Vosloo, Cerneels Lourens, Refentse Morake, Marlene le Roux, Wannie Carstens en Susan Smith. Verlede jaar het Sandra Prinsloo, Shaleen Surtie-Richards, Suzie Matlhola en Sue Pyler elk met ’n Koker weggestap.

 

Die Kokers word in drie kategorieë toegeken. In die eerste kategorie word mense vereer wat ʼn wesentlike bydrae tot die bevordering van Afrikaans, beskerming van Afrikaans of bemagtiging deur Afrikaans gemaak het. Die drie wenkandidate het gewoonlik ʼn lang betrokkenheid by Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap.

 

Kokers in die tweede kategorie is spesiale toekennings wat uitgedeel word vir ʼn lewenslange bydrae tot Afrikaans. Hierdie kategorie is veral op afgetredenes of mense aan die einde van hulle loopbaan gemik.

 

Die derde kategorie is op die jeug gerig en word as aansporingsprys verstaan. Dit gaan aan jong mense wat Afrikaans op nuwe maniere bedink en entoesiasme vir die taal onder ander jeugdiges kweek. Die maksimum ouderdom vir die jeugtoekennings is 35 jaar.

 

Die ATR kies die finaliste op grond van die inligting wat deur die nomineerders verskaf word of andersins deur die ATR bekom is. Die Nominasievorm 2018 moet ingevul en voor of op Saterdag, 20 Oktober aan marekyn@afrikaansetaalraad.co.za gestuur word.

Vanjaar se Kokerwenners sal op Vrydag, 16 November gedurende ʼn funksie in Pretoria aangekondig word.