OPROEP OM BENOEMINGS VIR DIE TAALRAAD SE KOKERTOEKENNINGS VAN 2021

OPROEP OM BENOEMINGS VIR DIE TAALRAAD SE KOKERTOEKENNINGS VAN 2021

Die Afrikaanse Taalraad nooi lede en die algemene publiek uit om kandidate vir die Kokertoekennings van 2021 te benoem. Die doel van die Kokers is om erkenning te gee aan mense wat besondere bydraes tot Afrikaans gemaak het. Hierdie jaar se wenners sal die week van 15 tot 19 November op die Taalraad se sosialemediaplatforms aangekondig word.

 

Bekendes wat in die verlede Kokertoekennings ontvang het, sluit in Adam Small, Ton Vosloo, Marlene le Roux, Cerneels Lourens, Refentse Morake, Sandra Prinsloo, Shaleen Surtie-Richards, Suzie Matlhola, Sue Pyler, Werner Human, Lara Erasmus en Jolene Potgieter.

 

Die Kokers word in drie kategorieë toegeken:

  • Kategorie 1: Kokers vir besondere prestasie
  • Kategorie 2: Spesiale Kokers vir ʼn lewenslange bydrae tot Afrikaans
  • Kategorie 3: Jeugtoekennings

 

 

Kategorie 1: Kokers vir besondere prestasie

Kokers word hier toegeken vir mense wat ʼn wesentlike bydrae tot een of meer van die volgende drie subkategorieë gemaak het:

  • Bevordering van Afrikaans
  • Beskerming van Afrikaans
  • Bemagtiging deur Afrikaans

 

Die drie wenkandidate het gewoonlik ʼn lang betrokkenheid by Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap. U kan een persoon per subkategorie of dieselfde persoon vir meer as een subkategorie nomineer. Kandidate kan egter nie terselfdertyd in meer as een kategorie wen nie.

 

Kategorie 2: Spesiale Kokertoekennings vir ʼn lewenslange bydrae tot Afrikaans

Toekennings in hierdie kategorie is gemik op afgetredenes of mense aan die einde van hulle loopbaan. U kan tot twee kandidate nomineer en hoef vir hierdie kategorie geen subkategorie te spesifiseer nie.

 

Kategorie 3: Jeugtoekennings

Hierdie toekennings word as aansporingsprys verstaan en is veral gemik op jong mense wat Afrikaans op nuwe maniere bedink en besig – en entoesiasme vir die taal onder ander jeugdiges kweek. Die maksimum ouderdom vir die jeugtoekennings is 35 jaar.

 

Kies van die finaliste

Die Taalraad kies die finaliste op grond van die inligting wat deur die nomineerders verskaf word of andersins deur die Taalraad bekom is. Die Taalraad se keuse is finaal en die wenners word gedurende die Kokergeleentheid bekendgemaak.

Nominasie van kandidate

Gebruik asseblief die nominasievorm om u kandidaat/e te nomineer. Stuur asseblief die voltooide nominasievorms voor of op 1 Oktober 2021 aan die Taalraad se sekretariaat by atr@afrikaansetaalraad.co.za.

 

Ons sien uit na u nominasies.

Nominasievorm 2021