Tito se twiet oor Tukkies is in die kol

KAAPSTAD. – Die Afrikaanse Taalraad (ATR) verwelkom die minister van finansies, Tito Mboweni, se Twitterkommentaar oor die afskaffing van Afrikaans by die Universiteit van Pretoria. Die Taalraad veroordeel insgelyks die uitrangering van Afrikaans as onderrigtaal aan die UP, want in effek lui dit die doodsklok vir alle ander Suid-Afrikaanse tale om tot onderrigtaalstatus uitgebou te word.

 

Dat hierdie besluit, ironies genoeg, deurgevoer word in die Verenigde Nasies se Internasionale Jaar van Inheemse Tale, strek die instelling bepaald nie tot eer nie. “In der waarheid spreek die praktyk om die koloniale taal Engels as die primêre onderrig- en kommunikasietaal te gebruik, van ’n negering van die waarde van die inheemse tale en ’n onwilligheid om die veeltalige karakter van die Suid-Afrikaanse samelewing te verreken,” sê Ria Olivier, programbestuurder van die ATR

 

Hierteenoor staan die Taalraad se standpunt oor die waarde van die inheemse tale en oor ware meertaligheid soos vervat in ’n toespraak deur die ATR-voorsitter, Japie Gouws, in November 2018: “Tale is ’n belangrike bate op Suid-Afrika se balansstaat. Ons moet hierdie bate gebruik tot voordeel van alle sprekers, en die waarde van veeltaligheid ontsluit tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.”

 

Die organisasie se uitvoerende hoof, dr. Conrad Steenkamp, stem saam. “Indien taalaktivisme nie sterker onder die sprekers van ál die inheemse tale van Suid-Afrika posvat nie, sal hierdie tale aanhou om in domeine soos universiteite en skole grond te verloor en later te sneuwel. Die uiteenlopende reaksies op Mboweni se twiet maak hierdie eenvoudige realiteit baie duidelik.”

 

Slegs enkele mense wat op die twiet gereageer het, het begrip vir die groter prentjie en die waarde van die land se inheemse tale getoon. Die meerderheid het steeds gepraat asof Afrikaans ’n wit taal is wat vir die verlede gestraf moet word en in die hede beperkte waarde het. Taal word steeds as ’n probleem beskou, en dis iets wat noodwendig lei tot die huidige uitputtingsoorlog oor taalregte.

 

“Dit is maklik om begrip te hê vir die wrok wat so baie onder ons – Afrikaanssprekendes ingesluit – steeds oor apartheid en die gevolge daarvan voel,” sê Steenkamp. Tog getuig skerp negatiewe menings in hierdie konteks dikwels van onkunde oor die waarde van ons inheemse tale en die enorme skade wat ons sal ly indien ons voortgaan met die huidige neiging na ’n Engels-eentalige bestel.

 

Volg ’n mens die beginsels van die VN se Internasionale Jaar van Inheemse Tale, is ’n algemene publieke kopskuif dringend nodig. Hiervolgens is taal ’n belangrike hulpbron, eerder as ’n probleem. Voorts kom die afgradering of verwaarlosing van inheemse tale neer op ’n vorm van sosiale, maatskaplike, kulturele, politieke en ekonomiese sabotasie.

 

“Sonder ’n opregte meertalige bestel en ’n langtermynprogram vir die ontwikkeling van die inheemse tale sal ware sosiale insluiting, geregtigheid en kohesie ʼn hersenskim bly,” sê Steenkamp. “Meertaligheid en ontwikkeling van die inheemse tale is ’n voorvereiste vir die volle ontwikkeling van die land se mense, ’n volwaardige demokrasie en inklusiewe ekonomiese groei. Gooi ons taal weg, dan gooi ons mense weg.”

 

Die VN se Internasionale Jaar van Inheemse Tale dien as ’n teken dat die sprekers van inheemse tale moet begin saamstaan om gemeenskaplike doelwitte te bereik – iets wat die meeste Afrikaanse organisasies al besef het. Die afgelope paar jaar het skakeling tussen Afrikaanse organisasies en diegene wat die inheemse tale in verskeie domeine wil bevorder stadig toegeneem – ’n teken dat mense die waarde van vennootskappe begin insien.

 

In Februarie neem die ATR deel aan ’n inisiatief wat daarop mik om burgerlike organisasies wat inheemse tale bevorder saam te snoer. Net soos wat dit lank gevat het om te begin aandag gee aan die verdeling tussen Afrikaanssprekendes, sal dit waarskynlik ook lank vat om kwessies tussen Afrikaans en die ander inheemse tale van die land op te klaar. Maar ’n begin is reeds gemaak.

 

Afrikaans staar enorme uitdagings in die gesig en dieselfde geld die ander inheemse tale. Die ATR meen dit sou fataal wees indien Afrikaanse organisasies beleef word as dat hulle ander op sleeptou probeer neem vir hulle eie gevegte. “Kruisbestuiwing moet plaasvind, maar die saak van die inheemse tale kan nie via ’n Afrikaanse agenda bevorder word nie,” sê Steenkamp.

 

“Wat nodig is, is daadwerklike aksie wat die verlammende denke dat Afrikatale nooit as onderrig- en leertale in hoër onderwys benut sal word nie, gegee die ‘dominansie van Engels’, sal omkeer,” sê Olivier. “Dis denke wat gewoon dui op ’n onwilligheid om alle inheemse tale, maar veral die menslike kapitaal van alle Suid-Afrikaanse burgers, uit te bou – iets wat ons land kwalik kan bekostig.”