Veeltaligheid is ‘n bate, nie ‘n hindernis nie

Na ’n lang geskiedenis van taalongelykheid, is die taalbedeling in Suid-Afrika deur dominante rolspelers herbedink. Die resultaat was die promulgering van Wet 200 van 1994, wat erkenning gee aan die gelykheid van tale en derhalwe ’n verskuiwing ten opsigte van die siening van taalverskeidenheid verteenwoordig: vanaf miskenning tot erkenning. Hierdie paradigmaverskuiwing vra dat tale as bates verreken word en dat taalgelykberegtiging en die bevordering van veeltaligheid sentraal staan. Voorts is die Talewet van 2012 ook aanvaar om taalgelykberegtiging te realiseer vir die talle sprekers van ons inheemse tale.

 

Maar, alhoewel die 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale juridies gelyk is, toon hulle werklike posisies die teendeel. In die praktyk word veeltaligheid meestal as ‘n probleem beskou en gehanteer. As daar mooi gekyk word na wat in sulke gevalle gebeur, is dit duidelik dat ’n probleembenadering tot veeltaligheid in wese neerkom op die bevordering van eentaligheid. Hierdie wanpraktyk lei daartoe dat die primêre instrument waardeur die meeste Suid-Afrikaners hul kulturele waardes verwoord, steeds misken word, dat die bril waardeur ’n groot aantal Suid-Afrikaners die wêreld ervaar, steeds vernietig word, dat die grootste groep Suid-Afrikaners steeds in ’n werklikheidsvreemde taal moet deelneem aan die sosiale, politieke en ekonomiese lewe van hul land, en dat mense se selfbeeld steeds afgetakel word.

 

Teenoor die probleembenadering is daar die batebenadering tot veeltaligheid. Soos elders in die wêreld bevind, maak hierdie benadering (wat die praktiese erkenning van veeltaligheid inhou) dit moontlik dat menslike hulpbronne ontgin word –  met die gepaardgaande voordele vir die individu, die instelling en die land in die breë. Ook lewer dit ’n belangrike bydrae tot sosiaal-ekonomiese gelykheid, kruiskulturele  kontak en verdraagsaamheid.

 

As ’n mens die nadele van ’n voortgesette probleembenadering in die praktyk opweeg teenoor die voordele van ’n batebenadering, word die versoening van teorie en praktyk ’n noodsaaklikheid, en word die suksesvolle implementering van die nuutaanvaarde veeltalige taalbeleid die verantwoordelikheid van elke individu en instansie in Suid-Afrika.

 

Wat nodig is, is die ontwikkeling van strategieë vir die suksesvolle implementering van ons veeltalige taalbeleid en die verandering van huidige persepsies oor taal.  Die oorkoepelende doelwit moet wees taalgelykberegtigtiging en bemagtigde sprekers. Deur mense bewus te maak van hul basiese taalregte en ‘n positiewe ingesteldheid tot veeltaligheid te kweek, kan ’n bydrae gelewer word tot die bevordering van ware demokrasie en taal- en kulturele verskeidenheid.

 

 

Geskryf deur Ria Olivier, programbestuurder van die Afrikaanse Taalraad.