Wees ‘n Rots

Dit is 9 Augustus 1956. Soveel as 20,000 vroue van alle rasse trek saam om ʼn petisie te oorhandig.  Daarna sing dié 20,000 vroue “Wathint’ abafazi wathint’ imbokodo!”, vertaal in Engels as “you strike a woman, you strike a rock”. Ek kry hoendervleis as ek net hieraan dink!

 

Vandag, 63 jaar later, het daar al baie verander. Ondanks uitdagings, ongelykhede en bevooroordeling, beklee vroue poste wat in 1956 taboe was. Vroue kan hul passie uitleef en steeds ʼn gesin hê.

 

Maar tog, daar is soveel vroue wat net probeer oorleef, en wat nie hul kinders self elke aand veilig onder ʼn kombers kan toemaak nie. Daar is soveel vroue wat van hulle gesinne geskei is as gevolg van omstandighede soos onder meer werkloosheid, egskeidings, en gesinsgeweld; vroue wat gewikkel is in ʼn stryd om net aan die basiese te voorsien. Daar is vroue wat geskei van hul kinders moet werk; wie se kinders grootword by oumas en oupas.

 

Ek het glad nie ʼn politieke, ekonomiese of ʼn filosofiese antwoord vir die uitdagings waardeur soveel vroue in die gesig gestaar word nie. My antwoord is miskien net té eenvoudig. Ek haal Quinton Adams, The Shack Builder aan: “Dis doeners wat die wêreld verander.”

 

Al dóén ek en jy net deur te luister na die vrou wat langs jou in die ry in die winkel staan, die vrou wat jou naels doen, die een wat die kantoor skoonhou wat al 04:00 moes opstaan en eers vanaand 20:00 by haar huis instap. So ook na daardie mamma wat nooit by enige sportbyeenkoms is nie omdat sy dubbelskof werk, of die een wat nie kan bydra vir die koekverkopings nie omdat die meelblik leeg is.

 

As ons na mekaar se stories gaan begin luister gaan ons soveel meer empatie met mekaar hê en ook miskien raaksien waar jy ʼn rots kan wees vir ʼn vrou wat voel sy verkrummel.

 

Annelize Brits

Maroela Media: Bedryfsbestuurder