Algemene beginsels van Taalraad se betrokkenheid

Die Afrikaanse Taalraad het ’n verteenwoordigende, fasiliterende, sinergieskeppende rol in belang van die hele Afrikaanse taalgemeenskap. Die ATR identifiseer leemtes in die Afrikaanse taallandskap en betrek lidorganisasies en ander om dit te vul. Die ATR se rol is nie om permanente projekte te bestuur nie, maar om geleenthede vir samewerking tussen lidorganisasies te skep.

Domeine waarin die ATR werk

Afrikaans in die gesin en gemeenskap

Om te oorleef en te groei, moet Afrikaans tussen generasies oorgedra word, – ’n taak waarin ouers en skole asook instellings soos geloofsinstansies, ’n deurslaggewende rol speel. Daarom bied die Taalraad taalvoorligting aan ouers, onderwysers en leraars.

Taal in die onderwys

Goeie moedertaalonderwys gee gemeenskappe toegang tot werksgeleenthede en die moontlikheid om hulle sosio-ekonomiese omstandighede te verbeter. Om dié rede help die ATR, in samewerking met lidorganisasies soos die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en die ATKV, om die Afrikaanse onderwyspyplyn in gemeenskappe te beskerm en uit te bou. Die ATR koester onderwysers in die belang van ons kinders se toekoms. Ons koester ook die leerders en fasiliteer toegang tot naskoolse opleiding in Afrikaans. Op universiteitsvlak skakel ons met instellings om Afrikaans in ’n meertalige konteks uit te bou.

Versoening en alliansiebou

Versoening tussen Afrikaanssprekendes en Afrikaans as eenheidstaal vind neerslag in bykans alle aktiwiteite van die ATR. In dié opsig fokus ons gesprekke, werkswinkels en potgooie dikwels op uitdagende temas, met die doel om Afrikaanse mense nader aan mekaar te bring. Ons werk ook met sprekers van die ander inheemse tale en ontwikkel bande met internasionale taalinstansies.

Owerheidskakeling

Die ATR dien as ’n belangrike mondstuk van Afrikaanssprekendes en Afrikaanse organisasies na die Suid-Afrikaanse owerhede en taalorganisasies elders in die wêreld. By wyse van ons versoenende rol help ons om ’n wye spektrum van rolspelers agter taalkwessies saam te snoer en om daarmee duidelike boodskappe aan die politieke besluitnemers deur te stuur.

Taalnavorsing en -beplanning

Die ATR bestuur navorsing oor kwessies van belang vir Afrikaans. Voorbeelde hiervan is ’n studie oor die demografie van Afrikaans (2021) in samewerking met Solidariteit se navorsingsinstituut, asook die ondersoek na die stand van Afrikaans (2025). Laasgenoemde is met tegniese ondersteuning van die Nederlandse Taalunie (https://taalunie.org/) geïmplementeer en gebruik hulle ondersoek na die “Staat van het Nederlands” as voorbeeld.

Die data wat gedurende die ondersoek na die stand van Afrikaans ingesamel is, word binnekort volledig op die webwerf van die Virtuele Instituut vir Afrikaans beskikbaar gestel en sal verdere navorsing in die belang van Afrikaans moontlik maak.

Die ATR se aktiwiteite fokus op die bevordering en die herbelewing van Afrikaans. Afrikaans se hoër funksies en die hele onderwyspyplyn vanaf die gesin tot tersiêre vlak moet behoue bly. Die taalverskuiwing na ander tale moet gestuit word en positiewe taalhoudings moet bevorder word.

Taalnavorsing, UNESCO (2003) se raamwerk vir taalvitaliteit en -bedreiging, en die Amerikaanse taalkundige Joshua Fischman se werk skep ’n stewige basis vir taalbeplanning en -bestuur.

Word deel van die Taalraad se aktiwiteite op ’n gebied wat tot jou spreek.

Skryf aan Marekyn Kruger-Evert by marekyn@afrikaansetaalraad.co.za vir meer inligting of hoe om betrokke te raak.